Die Gedaanteverwisseling van Jesus ( ook die Verheerliking- of Transfigurasie van Jesus genoem) is een van die sleutelgebeure in Jesus se lewe. Hy het drie apostels – Petrus, Jakobus en Johannes – na 'n hoë berg saam met hom geneem om te bid. Terwyl hulle besig was om te bid, het Sy voorkoms verander en Sy klere het "skitterend wit" geword. Op daardie stadium het Moses en Elia verskyn en met die Here gepraat oor Sy komende dood. 'n Wolk het die groep oorskadu, en God die Vader se stem het uit die wolk gekom en gesê: "Dit is my Seun, my Uitverkorene" luister na Hom!"
Die Kerk vier elke jaar op 6 Augustus die Fees van die Verheerliking van Onse Liewe Here, Jesus Christus.
Volgens St. Thomas Aquinas het die Verheerliking plaasgevind sodat die goddelike heerlikheid wat Christus s'n was, vir 'n oomblik toegelaat is om deur Sy menslike liggaam te skyn.
Dit het Christus gedoen sodat die Drie vir 'n kort tydjie kon mediteer oor die ewige vreugde wat vir hulle wag, in die lig van die vervolginge wat hulle nog sou ly.
Verheerliking verwys na Onse Here se verandering in voorkoms vanaf die liggaamlike vorm waarin Hy sou ly en sterf, na die verheerlikte vorm waarin Hy uit die dood sou opstaan.
Uit die Latynse stamwoord "trans-" wat oorkant of deur en "figura" wat vorm beteken.
Die Gedaanteverwisseling het plaasgevind ongeveer 'n week nadat Jesus en die dissipels na Cæsarea Filippi gegaan het, en dit is waar Petrus verklaar het dat Jesus "die Christus van God" is (Lukas 9:20).
Alhoewel die Evangelies slegs daarna verwys as 'n 'hoë berg', is dit volgens oorlewering op die berg Tabor (in Israel) waar die Gedaanteverwisseling plaas gevind het. 'n Franciskaanse kerk, nie te ver van Nasaret af nie, herdenk vandag nog die tradisionele plek, waar kerke uit die 4de eeu en 12de eeu reeds bestaan het.
St. Johannes Paulus II
Die apostels Petrus, Jakobus en Johannes het hierdie gebeurtenis aanskou. Pous Benedictus XVI het gesê: Die verborgenheid van die Verheerliking mag nie geskei word van die konteks van die pad wat Jesus volg nie. Hy is nou beslissend daarop ingestel om Sy missie te vervul, omdat hy maar al te goed weet dat om by die Opstanding uit te kom, Hy deur die Passie en Dood aan die Kruis moet gaan. Hy het openlik hieroor met Sy dissipels gepraat; maar hulle het dit nie verstaan nie, inteendeel, hulle het hierdie vooruitsig verwerp omdat hulle nie ooreenkomstig God geredeneer het nie, maar in ooreenstemming met die mense (vgl Mt 16:23).
Dit is om hierdie rede dat Jesus drie van hulle saam met Hom die berg opgeneem het en Sy goddelike heerlikheid, die prag van Waarheid en van Liefde aan hulle openbaar het. Jesus het verlang dat daardie lig hulle harte moet verlig wanneer hulle deur die dik duisternis van Sy Passie en Dood sou gaan, wanneer die dwaasheid van die Kruis vir hulle ondraaglik sou word. God is lig en Jesus wil sy naaste vriende die ervaring gee van hierdie lig wat in Hom woon.
In Matteus 5:17 sê Jesus: "Moenie dink dat Ek gekom het om die wet en die profete af te skaf nie; Ek het nie gekom om hulle af te skaf nie, maar om hulle te vervul."
Die Wet en die Profete is die twee hoofaspekte van die Ou Verbond, en Moses verteenwoordig die Wet, terwyl Elia die Profete verteenwoordig.
Sint Johannes Paulus II het gesê:
Aan ons, pelgrims op aarde, word die kans gegun om ons te verheug in die geselskap van die verheerlikte Here wanneer ons onsself verdiep in die dinge van bo, deur gebed en die viering van die goddelike geheimenisse. Maar, soos die dissipels, moet ons ook van Tabor afdaal na die daaglikse lewe waar menslike gebeure ons geloof uitdaag. Op die berg het ons gesien; op die paaie van die lewe word ons onvermoeid gevra om die Evangelie te verkondig om sodoende die voetstappe van gelowiges te verlig.
Volgens die Kategismus van die Katolieke Kerk, "Het Christus se Verheerliking ten doel om die apostels se geloof te versterk in afwagting van sy Passie: die opklim na die 'hoë berg' is 'n voorbereiding vir die klim na Golgota. Christus, Hoof van die Kerk, openbaar wat sy Liggaam bevat en straal sou reeds die sakrament[e]: 'die hoop op die heerlikheid' uit." (KKK 568).
In beide die Ooste en die Weste is die Transfigurasie tradisioneel in Augustus gevier, insluitend op 6 Augustus op baie plekke. In 1456, toe die spanning tussen Christelike Europa en die Ottomaanse Ryk hoog was, is die Turkse magte in 'n groot veldslag in Belgrade, Hongarye verslaan, wat die opmars van die Ottomane sewentig jaar vertraag het.
Die nuus omtrent hierdie oorwinning het op 6 Augustus 1456 Rome bereik. As dankseggingsdaad het pous Callistus III, wat alle Christene gevra het om vir oorwinning te bid, daardie dag aangewys as die vaste datum vir die Kerk om die Fees van die Verheerliking te vier
St. Johannes Paulus II het met sy Apostoliese brief Rosarium Virginis Mariae in 2002 die bid en insluiting van die Ligryke Geheimenisse bekend gemaak.
Die Geheimenisse is:
1ste Ligrykegeheimenis
Die doop van die Here in die Jordaanrivier
2de Ligryke geheimenis
Die openbaring van onse Here by die huweliksfees te Kana
3de Ligrykegeheimenis
Die verkondiging van God se koninkryk en die oproep tot berou en bekering
4de Ligrykegeheimenis
Die verheerliking van onse Here
5de Ligrykegeheimenis
Die instelling van die Heilige Eucharistie
.
Al drie Sinoptiese Evangelies getuig van die Verheerliking (Mattheus 17:1-8, Markus 9:2-8 en Lukas 9:28-36).
Get 10% off your first purchase when you sign up for our newsletter!
Copyright © 2024 AfrikaansKatoliek-Seisoene-en-Feeste - All Rights Reserved.
Powered by GoDaddy Website Builder
We use cookies to analyze website traffic and optimize your website experience. By accepting our use of cookies, your data will be aggregated with all other user data.