Die Kerk vier jaarliks die Fees van Onse Liewe Vrou van die Rosekrans op die 7de Oktober. Op hierdie dag vier ons oorwinning van die Heilige Bond (ook die Heilige Liga of die Katolieke Koalsie genoem) en die nederlaag van die Ottomaanse Ryk tydens die geskiedkundige seeslag van Lepanto wat op 7 Oktober 1571 plaasgevind het. Die Katolieke Koalisie het bestaan uit skepe van die Venesiese Republiek, die Spaanse Ryk (insluitend Die Koningkryke van Napel en Sisilië en ander Italiaanse gebiede) Die Pouslike State, Die Ridderorde van St Stefan, Die Groothertogdom van Toskane, Die Hertogdom van Savoy, Die Ridders van Malta, asook enkele skepe in privaat besit.
Alhoewel die Turkse magte magtig was, het die Christene hulle verslaan en hul oorwinning toegeskryf aan die voorbidding van Geseënde Maagd Maria en die intensiewe Rosekransgebedsveldtog wat die slag vooraf gegaan het.
Tot en met die seeslag van Lepanto, het die Ottomaanse Ryk vir byna 'n eeu lank nie enige groot geveg verloor nie. Pous St Pius V het besef dat die Heilige Koalise ( ook die Heilige Bond of die Katolieke Liga genoem) groot geestelike hulp benodig, en daarom het hy die Koalisiemate, sowel as al die gelowiges, gevra om die Rosekrans te bid en Onse LIewe Vrou se voorbidding gevra vir 'n oorwinning in die komende stryd. Daar word vertel dat die aand voor die beroemde seeslag, die matrose van die Katolieke Koalisie, die Rosekrans op hul knieë gebid het.
Op 7 Oktober 1571 het die Christenvloot die seeslag ingegaan onder 'n banier wat deur die pous self geseën is. Sommige historiese bronne getuig ook dat hulle 'n skildery met hulle saamgedra het (uit Mexiko aan die koning van Spanje gestuur) wat die wonderbeeld van Onse Liewe Vrou van Guadalupe bevat het.
Die Katolieke koalisiemagte het die Ottomaanse oorlogskepe teëgekom wat in die vorm van 'n sekelmaan, die simbool van Islam, ontplooi was. Die skepe van die Heilige Koalisiemagte het in die vorm van 'n kruis groepeer. Gesamentlik was daar meer as 400 oorlogskepe gereed vir die seeslag, wat dit een van die grootste seegevegte in die geskiedenis gemaak het. Die Katolieke Bondsmagte het na slegs 5 ure as die oorwinnaars uit die seeslag getree.
Die Heilige Liga of die Katolieke Bond, 'n koalisie van Katolieke maritieme state wat deur pous St. Pius V byeengebring is, het teen die Ottomane, 'n Islamitiese ryk wat in Istanbul gesentreer was, geveg. Die "Turke" het probeer om hul invloed buite Suidoos-Europa uit te brei. 'n Turkse oorwinning kon tot gevolg gehad het dat die uitbreiding van Islam diep in Europa moontlik sou gewees het.
Die seeslag van Lepanto het in die Golf van Patras, aan die westelike kus van die Griekse skiereiland in die Ioniese See, plaasgevind.
As gevolg van die Heilige Liga se oorwinning oor die Ottomaanse Ryk in die Slag van Lepanto, het die Turke nie na hul mag en invloed na Europa kon uitbrei nie. Vele historici was, en is van mening dat dit een van die belangrikste gevegte in die geskiedenis was.
Skandeer die volgende QR-kode om 'n spesiale Rosekransblad geneem te word.
Lees daar meer omtrent die HOE & WAT van die Rosekrans.
Pous St Pius V het geweet dat Onse Liewe Vrou vir die Heilige Koalisie voorspraak gemaak het en hul oorwinning verseker het. Trouens, die dag van die Slag van Lepanto, 7 Oktober 1571, het hy die Geseënde Moeder in 'n visioen gesien, en sy het die oorwinning aan hom geopenbaar. As 'n offer van danksegging het die pous hierdie dag verklaar as die feesdag van Onse Liewe Vrou van Oorwinning, nou bekend as Onse Liewe Vrou van die Rosekrans.
Maria is die Koninginmoeder omdat haar seun Christus die Koning is. Die Rosekrans, soos aan Sint Dominic toevertrou, is 'n meditasie oor die geheimenisse van die vleesgeworde Koning, en dus ook oor die hartseer en vreugdes van Sy Moeder. Maria is dus so diep verweef met die Rosekrans dat 'n mens nie aan die Rosekrans kan dink sonder om aan Maria ook te dink nie .
In die 13de eeu het die Geseënde Moeder in visioene aan Sint Dominic (Domenikus) verskyn en hom geïnspireer om die rosekrans, soos ons dit vandag ken, te skep.
'N WYSE OU DAME
Soos enige gebed, is die doel van die Rosekrans om ons nader aan die Here te bring. Anders as die meeste "vokale gebed", is die Rosekrans ook bedoel om 'n meditasie oor die onderwerp van die Geheimenisse te wees.
As 'n mondelike gebed (ook vokale gebed genoem) dien die Rosekrans die gewone doeleindes van sulke gebed: Aanbidding van God, Berou vir ons sondes, Danksegging vir Sy Gawes en Smeking (Smeekgebede) vir onsself en vir ander. Ons kan dus die Rosekrans vir al hierdie voornemens bid. Baie Katolieke heg selfs 'n ander gebedsintensies (voornemens) aan elke dekade toe.
Al die vorige genoemde elemente kan uit die Rosekransgebed geneem en daarin gevind word deur oor die Geheimenisse van die Rosekransgebed te mediteer. As ons oor die Geheimenisse nadink, vind ons die rede om die grootheid van God en die grootheid van Sy liefde vir ons te te verstaan en om Hom daarvoor te dank.
Ook kan ons die boosheid van ons sondes raaksien en die rede vir berou begin insien. Dit is moontlik deur na Jesus en Maria, die modelle van heiligheid waarna ons behoort te streef, se lewens te kyk, sodat ons in die vreugdes en heerlikheid van die ewige lewe met die Heilige Drie-eenheid kan deel hê. So lei die Rosekransgebed ons na 'n verdieping van Geloof, van Hoop en van Liefde. Dit is, soos baie heiliges getuig het, vir die gelowiges, die weg na 'n dieper gebedslewe en dieper eenheid met God.
Skandeer die volgende QR-kode om 'n e-Boek omtrent die Rosekransgeheimenisse en Meditasie te bekyk en af te laai.
Get 10% off your first purchase when you sign up for our newsletter!
Dit is 'n feit dat vele mense wat die Rosekrans bid, dit moeilik vind om oor die Geheimenisse te mediteer. Hulle beskou hulself nie in staat om te mediteer nie, óf afleidings weerhou hulle daarvan. Wanneer die Rosekrans in die openbaar gebid word, is dit dikwels onmoontlik om dit met meditasie te kombineer. Die geraas en bekommernisse van ons moderne samelewing, veral die van elektroniese toestelle, help beslis nie.
Niks behoort ons egter daarvan te weerhou om die Rosekrans te bid, en ook oor die Geheimenisse te probeer mediteer nie. Selfs 'n eenvoudige metode, soos om die toneel van die spesifieke Geheimenisse in jou geestesoog voor te stel, of 'n boek soos byvoorbeeld 'n skriftuurlike Rosekrans of 'n ander Rosekransmeditasieboek, te gebruik behboort vir die meeste mense tot 'n mate moontlik te wees. Met verloop van tyd en met volharding, soos met alle gewoontes, sal dit makliker word om te doen.
In die Katolieke Kerkword die liturgiese kerkjaar met feeste en liturgiese seisoene verweef om ons aan die geheimenisse van die Verlossing te herinner. Die twaalf maande van die jaar word ook om dieselfde rede gewy aan verskillende aspekte van die geloof. In Oktober onthou ons veral die Rosekrans, opsigself 'n opsomming van die Evangelie en dit is die maand waarin ons die Fees van Onse Liewe Vrou van die Rosekrans (7 Oktober) vier.
Tradisioneel word die maande van die Jaar as volg toegewy:
Januarie: Die Heilige Naam van Jesus
Februarie: Die Heilige Familie
Maart: Sint Josef
April: Die Heilige Sakrament
Mei: Die Heilige Maagd Maria
Junie: Die Heilige Hart van Jesus
Julie: Die Kosbare Bloed van Jesus
Augustus: Die Onbevlekte Hart van Maria
September: Die Sewe Smarte van Maria
Oktober: Die Heilige Rosekrans
November: Die Heilige Siele in die Vaevuur
Desember: Die Onbevlekte Ontvangenis van Maria
SINT JOSEMARIA ESCRIVA
Die 'Wees Gegroet-gebed' is gewortel in die HeiligeSkrif, maar is ook 'n reaksie van die Kerk op die verborgenheid van die Menswording van Christus en die Verlossing wat vir ons gewen is, en die rol van ons Here se Geseënde Moeder daarin (vgl. Joh. 2:3).
In Lukas 1:28 groet Sint Gabriël Maria met die woorde: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!”
In Lukas 1:42 rig Sint Elisabet hierdie woorde aan Maria: " “Geseënd is jy onder die vroue! Geseënd is die vrug van jou moederskoot!"
Heilige Maria, Moeder van God, bid vir ons sondaars, nou en op die uur van ons dood. Amen.
Niemand beskik oor 'n monopolie op gebed nie. Anders as in die geval van die ontvangs van Heilige Kommunie, wat vir Katolieke gereserveer is, kan die Rosekrans deur enigiemand gebid word.
Trouens, aangesien die Rosekrans grootliks 'n besinning oor die Evangelie is, geniet baie nie-Katolieke die meditasies oor die lewe van Jesus.
Boeke soos byvoorbeeld "Five for Sorrow, Ten for Joy" deur die Metodiste-kapelaan J. Neville Ward het die praktyk selfs gewilder gemaak.
BID HOOPVOL EN VERTROUEND SONDER EINDE!
POUS SINT PIUS X
Copyright © 2024 AfrikaansKatoliek-Seisoene-en-Feeste - All Rights Reserved.
Powered by GoDaddy Website Builder
We use cookies to analyze website traffic and optimize your website experience. By accepting our use of cookies, your data will be aggregated with all other user data.