Die Kerk bestaan uit die gelowiges wat op die aarde woon en diegene wat ons voorgegaan het. Laasgenoemde sluit die Heiliges in die Hemel in en die getroue Siele wat in die Vagevuur gereinig word. Net soos ons op 1 November diegene eer wat by God is, vier ons as Katolieke op 2 November 'n herdenking van al die gelowiges wat gesterf het. Meer bekend as Allersiele, eer ons hulle op hierdie dag vir hul getrouheid in die lewe en ons bid vir hulle, aangesien hulle gesuiwer word voordat hulle die Allerheilige Teenwoordigheid van God betree. Soos Openbaring 21:27 van die hemelse Jerusalem sê, "Niks wat besoedel is, en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot haar (die hemelse Jerusalem) kry nie."
Van die vroegste beginjare van die Kerk af, het Katolieke nog altyd geglo in 'n plek van finale reiniging vir die gelowiges wat gesterf het. Diegene wat as martelaar gesterf het, is erken as reeds by God, aangesien hulle volkome gelykvormig was aan Christus en Sy Kruis deur hul martelaarskap. Vir die baie gelowiges wat nooit die geleentheid gehad het om so 'n openbare getuienis af te lê nie, het die Kerk gebede opgeoffer, veral die Heilige Mis is gevier, sodat hulle, gereinig van elke onvolmaaktheid, in die Hemel sou kon ingaan. Hierdie realiteit en geloof kan gevind word in baie antieke tekste, en word van deur die katakombes en grafte getuig.
In die Middeleeue het die teologiese verduideliking begin ontwikkel en die naam Vagevuur het algemeen in gebruik gekom, aangesien die woord die geloof van die Kerk van die beginjare tot vandag toe gepas beskryf. Almal wat in God se genade en vriendskap sterf, maar steeds onvolmaak gereinig is, is inderdaad verseker van hul ewige verlossing; maar na die dood ondergaan hulle reiniging, om die heiligheid te bereik wat nodig is om die vreugde van die Hemel binne te gaan. Die Kerk gee die naam Vagevuur aan hierdie finale reiniging van die uitverkorenes.... (Kategismus van die Katolieke Kerk 1030-1031)
Alhoewel die woord Vagevuur nie in die Skrif voorkom nie, is die moontlikheid van reiniging na die dood beslis in onontwikkelde vorm in die Skrif terug te vinde. Byvoorbeeld, in die boek Makkabeërs, stuur Judas Makkabeër 'n offer na die tempel namens sy gevalle manne wat 'n bygelowige daad gepleeg het (2 Mak. 12:39-45). Alhoewel hierdie Katolieke Bybelteks nie in die Protestantse Bybel voorkom nie, getuig dit nietemin van die geloof van Israel in die 2de eeu v.C.
In die Nuwe Testament raai ons Here ons aan om ons sake af te handel voordat ons voor die regter gaan, anders kan ons in die tronk gegooi word, waar ons bly totdat ons skuld betaal is.
Matteus 5:25-26 “Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie."
Hierdie is 'n basiese beginsel van geregtigheid, skuld van geregtigheid moet betaal word. Ons kan nie ons skuld aan God betaal nie, dit is oneindig. Christus het daardie skuld betaal en ons natuur met Sy Goddelike Natuur verenig, en ons ontvang vergifnis wanneer ons ons tot Hom wend in bekering deur diegene wat Hy vir hierdie doel aangestel het (Joh. 20:21-23; 2 Kor. 3:5-6).
Die tydelike skuld, in ons en in ander, as gevolg van ons oerstaat en ons keuse in lewe, bly. Ons moet dit regstel in die mate waartoe ons in staat is – byvoorbeeld deur gesteelde geld terug te gee, iemand se goeie naam reg te stel, vergifnis te vra van iemand wat ons seergemaak het, of dit nou fisies, emosioneel of moreel was, As ons dit nie in hierdie lewe doen nie, dan in die volgende. Hierdie skuld, binne ons vermoë om te herstel, kan ons nie sommer opsy kan sit nie, hetsy in die lewe of in die dood.
'n WYSE OU NON
Die vroeë Kerk het die praktyk gehad om die siele van die oorledenes tydens die Heilige Mis viering te onthou. Die gravering van die oorledenes se name op kliptablette het ook algemeen voorgekom en 'n weergawe hiervan is vandag in elke Heilige Mis viering teenwoordig, wanneer, tydens die Eucharistiesegebed daar vir die gelowiges wat in Christus gesterf het, gebid word. Hierdie oomblik staan bekend as die Herdenking van die Dooies (Momento) en dan bestaan daar ook die eerbare antieke gebruik om die Heilige Mis vir spesifieke individue te laat vier.
DIe viering op 'n spesiale dag vir al die Oorledenes het in die 6de eeu in sommige kloosters begin, en teen die 10de eeu na bisdomme versprei en was toe al op sommige plekke reeds op 2 November, die dag na Allerheiligedag, gevier. Die datum van 2 November is ook reeds in die 13de eeu in Rome aangeneem.
Allerheiligedag, wat op 1 November gevier word, is 'n Hoogfees ter ere van die gelowiges wat reeds in die Hemel is.
Op 2 November, die Hoogfees van Allersiele, bid ons vir die Heilige Siele in die Vagevuur wat gereinig word voordat hulle die Hemel binnegaan.
Alhoewel nie 'n Verpligte Kerkdag nie, is dit op Allersiele dit 'n goeie idee om die ten minste die Heilige Mis by te woon. Dit is definitief raadsaam om genoeg tyd op die dag aan gebed vir die siele van ons geliefde oorledenes te bestee, sowel as vir die ontelbare Arme Siele wat niemand het wat vir hulle sal bid nie.
Die tradisionele, ou geëerde gebruik om die grafte van ons oorledene op hierdie dag te gaan besoek om eerstens vir hulle te bid op dié plek waar hul liggaamlike oorskot (deur die Sakramente in die lewe geheilig, afwagtend op die algemene opstanding) te vinde is, en tweedens om as teken van agting en respek byvoorbeeld vars blomme te plaas en hulle grafte of gedenkstene te versier en ongelukkig in meeste gevalle in Suid-Afrika, miskien selfs bossies uit te trek, te spit en te hark. Baie parogies hou 'n spesiale gebedsdiens in die plaaslike begraafplaas op of naby Allersiele.
Hulle wat in die genadestaat sterf, maar nog nie volkome gereinig is van al hulle gehegtheid aan sonde, gaan na die Vagevuur.
Christus het ons vermaan om "volmaak te wees soos die hemelse Vader volmaak is" (Matt. 5:48), en daarom is die reiniging van alle onvolmaakthede, wat selfs die goeie mens dikwels nog by die dood kenmerk, nodig, voordat ons die Vader se teenwoordigheid kan binnegaan.
St Faustina (Dagboek 20) Wie in die Vagevuur beland? Deel I
St Faustina (Dagboek 20) Wie in die Vagevuur beland? Deel II
Pous Sint Johannes Paulus II het in drie toesprake oor die hemel, hel en vagevuur verduidelik hoe die essensie van hierdie realiteite nie 'n "plek" is nie, soos “plekke” wat in ruimte en tyd bestaan nie, maar die verhouding van die siel tot God, wat liefde is.
Van God se kant af, bied Hy dit altyd aan. Van ons kant af, kies ons om dit perfek of onvolmaak te aanvaar. Ons kan ook kies om God se aanbod van liefde te verwerp. Ons keuse, wat dit ook al is, word vasgestel by die dood wanneer die moontlikheid van morele keuse eindig en ons ewige verhouding met God dus bepaal is.
Die geseënde siel ervaar God se liefde as vreugde, en die verlange van die siel wat soos vuur gereinig word, is versag deur die wete dat dit eendag by God sal wees, en ook deur die vertroosting van die engele, heiliges en siele op aarde wat namens hulle daarvoor bid.
Sint Paulus praat van die lot van die Regverdige wanneer hy praat van die Laaste Dag van die menslike geskiedenis. 1 Korintiers 3: 12-15 "Of iemand nou op die fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, gras of strooi – elkeen se werk sal duidelik word, want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel. As iemand se bouwerk behoue bly, sal hy sy loon ontvang. As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly – hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen."
Vir die meeste van die mensdom sal hulle "Oordeelsdag" die laaste dag van hulle lewe wees, nie die Laaste Dag van die geskiedenis nie. Die reg wat Christus behou het om die regverdiges te reinig wat tot die einde toe oorleef, daardie reg sal ook die regverdiges reinig wat voor dit sterf; want dit sal die onregverdiges straf, ook met vuur.
Onse Liewe Heer aan Sint Gertruida
Die Skrif gebruik die uitdrukking "ontslaap" vir die dood in Christus (1 Kor. 15:20). Rus van die siel of sielerus, beteken dus dat die siel in God rus, tot die dag van die algemene Opstanding.
Die Heilige Siele kan nie vir hulself bid nie, en hulle het ons gebede nodig. Ons moet nooit aanvaar dat 'n persoon onmiddellik na God gegaan het nie, en selfs mense wat later Heilige verklaar is, het gesterf in die verwagting dat Heilige Misse en gebede vir hulle opgedra en geoffer sou word.
Alhoewel die Kerk nie liturgies vir mense wat bekend was vir 'n skandalige lewenstyl en daarna tot sterwe gekom het, bid nie, kan familielede en vriende beslis vir hulle bid, in die hoop dat hul geliefde op die laaste oomblik tot berou en bekering gekom het. Sou hul gebede nie dié persoon van hulp wees nie, is daardie gebede steeds verdienstelik vir die een wat gebid het. Dit is natuurlik onnodig om vir gekanoniseerde Heiliges te bid, en diegene wat in die hel is, is buite ons bereik en God se genade.
Ja, Regverdige Sele, hetsy in die Hemel of in die Vagevuur kan. Al die gelowiges, hetsy op aarde (die Kerk Militant), in die Vagevuur (die Kerk Lydend), of in die Hemel (die Kerk Triomfantlik), vorm 'n "Gemeenskap van die Heiliges" in God, want "Hy is nie God van die dooies nie, maar van die lewendes; want almal lewe vir Hom" (Lukas 20:38).
Dus, terwyl die Heilige Siele nie vir hulself kan bid nie, kry ons kragtige voorbidders en behaag ons die Here met ons gebede vir hulle.
Sint Paulus van die Kruis het eens gesê: "As ons gedurende die lewe die lydende siele in die vaevuur onthou het, sal God toesien dat ons nie na die dood hulp geweier word nie."
Reg deur die jaar kan ons aanhoudend Heilige Misse vir die Siele in die vagevuur laat opdra, hulle by ons daaglikse gebede en Rosekransintensies insluit, en vir hulle bid elke keer wanneer ons naby 'n begraafplaas is. ‘n Wyse ou non het gesê, "Elke keer as jy by 'n begraafplaas verbygaan, bid die 'Ewige Rus, o Here'-gebed. Gesonde verstand sê dat jy sommige van die siele in die vagevuur so help om daar uit te kom."
sd
Eerbiedwaardige Fulton Sheen het gesê: “Soos ons die hemel binnegaan, sal ons hulle, so baie van hulle, na ons toe sien aankom om dankie te sê. Ons sal wonder en vra wie hulle is, en hulle sal sê:’ ‘n arme siel waarvoor jy gebid het terwyl ek in die Vagevuur was.’ ”
Wat is 'n Heilige Siel?
'n Heilige Siel is iemand wat nou in die Vagevuur is. Daar word ook na hulle verwys as Arme Siele. Die gebruik van "Heilig" beklemtoon die toestand geregtigheid waarin hulle gesterf het; die gebruik van "Arme" dui op hul behoefte aan ons gebede, gegewe die reiniging wat hulle ondergaan.
Hoe lank verbly 'n siel in die Vagevuur?
Die mate van onvolmaaktheid in elke siel wat gereinig moet word, is eintlik net aan God bekend. Die “tyd” wat elke siel in die Vagevuur vertoef kan ook soos reeds genoem, verlig word deur die opdra van Heilige Misse vir die Arme Siel, ons gebede, ens. Dit beteken dat hoewel relatief gesproke verskillende siele verskillende grade van reiniging sal benodig wat hul "tyd" in die vaevuur sal bepaal, ons nie kan weet hoe "lank" dit sal wees nie.
Wat dit bemoeilik, is die feit dat hoewel die omvang van suiwering met tyd vergelyk word, tyd op sy beste 'n analogie is wat tot ons voordeel is en gebruik word. Die Vagevuur bestaan nie in ruimte en tyd nie, en daarom, hoewel dit by ons ervaring pas om so daaroor te praat, pas dit nie by die werklikheid nie.
Sint Margaret Mary Aacoque
Get 10% off your first purchase when you sign up for our newsletter!
Copyright © 2024 AfrikaansKatoliek-Seisoene-en-Feeste - All Rights Reserved.
Powered by GoDaddy Website Builder
We use cookies to analyze website traffic and optimize your website experience. By accepting our use of cookies, your data will be aggregated with all other user data.